Noag se arkie - Prospektus
|
BELEID Ons handhaaf ‘n oop beleid en u as ouers moet asseblief die vrymoedigheid neem om enige klagtes of probleme rakende u kleuter met die hoof te bespreek. VISIE Om elke kleuter die geleentheid te gun om ten volle te ontwikkel op alle terreine ter voorbereiding vir graad R. Noag se arkie streef daarna dat elke kleuter sy volle potensiaal sal bereik, deur gehalte opvoeding, met deernis en liefde. MISSIE Noag se arkie streef daarna om: • ‘n Veilige hawe te skep vir die kleuters • Die kleuters geestelik, verstandelik en liggaamlik voor te berei vir die wêreld daar buite • Gesonde, konstruktiewe spel en ontspanning te bied vir die kleuters TAAL Afrikaans is die primêre voertaal van Noag se arkie. Op sommige dae word storie-tyd en kringe in Engels aangebied en die kleuters leer sodoende maklik die tweede taal aan. FASILITEITE • Opvoedkundige speelgoed • Klim en klouter apparaat • Swaaie • Skoon sandput • Gras areas • Trampolien • Kasteel met fantasie hoekies SKOOLURE • Die hek is oop vanaf 7:00 • Dagprogram begin stiptelik om 8:15 • Ontbyt word bedien teen 8:15 • Laatkommers steur die groepsaktiwiteit en verbreek die konsentrasie van die ander kleuters. Sorg dus asb dat kleuters betyds by die skool sal wees. • Kleuters mag vanaf 13:00 gehaal word. • Die skool sluit 14:00. Wees asb stiptelik met die afhaal van kleuters. Dit is vir ons eerste prioriteit dat u kleuter veilig afgelaai word in die oggend. Dus maak ons dit ons werk om elke kleuter persoonlik by die hek te ontmoet en klas toe te neem. Ouers moet asb so gou as moontlik vertrek. Onthou u kleuter is in goeie hande en trane droog vinnig op sodra ouers gery het. RUSTYD Die DEPARTMENT VAN GESONDHEID vereis dat kleuters wat die skool bywoon sal rus. Elke kleuter word met sy/haar eie matras en kussing voorsien. Kleuters moet hulle eie gemerkte kombers saambring. AFWESIGHEID Ons hou ‘n register van bywoning. Indien u kleuter die dag nie die skool kan bywoon nie, is dit die ouer se plig om ons in te lig deur middel van ‘n oproep, sms of ‘n briefie in die kleuter se dagboek. TELEFOONOPROEPE Beperk asseblief telefoonoproepe tussen 8:30 en 10:00, aangesien dit dan die belangrikste en besigste tyd van die skooldag is. Sms’e is enige tyd welkom in daardie tyd. Groepe Die skool beskik oor drie groepies. • Vissieklas : 2-3 jariges • Eendjieklas : 3-4 jariges • Kameelperdklas : 4-5 jariges AKKOMODASIE • Noag se arkie kleuterskool is geregistreer by die “Department of Social Services and population Development.” INSKRYWINGSGELD ‘n Intreefooi van R250 per kleuter is betaalbaar met registrasie. Dit sluit die volgende in: • Dagboek • Tandeborsel • Waslap • Noag se arkie-speelpakkie (Khaki hemp en navy broek). Indien vervang moet word is dit die ouer se verantwoordelikheid om die hoof in te lig sodat sy ‘n nuwe stel kan bestel. • Noag se arkie-sonhoedjie, wat by die skool bly en gedra word tydens vryspel buite, asook tydens uitstappies. Daarna R100 per kleuter aan die begin van elke jaar vir bogenoemde aankope. SKOOLKLERE Sweetpakke en windjakkers kan ook bestel word. Klere word op Vrydae en met uitstappies gedra. 2009 tariewe: • Noag se arkie-speelpakkie (hemp en broekie) @R80 • Sweetpak @R185 • Windjakker @R110 SKOOLFOOIE Die skoolfooie vir 1 Januarie tot 31 Desember 2009 is soos volg: Vyf dae per week Eerste Kleuter : R1250 x 12 maande Tweede kleuter : R1170 x 12 maande Die skoolfooie word jaarliks op 1 Januarie verhoog. Skoolfooie is vooruit betaalbaar voor of op die 2de van elke maand • Internet batalings is baie welkom. ‘n Bewys van betaling kan ge-email word aan: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . ‘n Bewys van betaling kan ook uitgedruk word en in u kleuter se dagboek geplaas word. • Kontant in ‘n koevert met die kleuter se naam op word in die kleuter se boekie geplaas, of beter, vir die hoof gegee. DAGBOEK ‘n Dagboek word gehou van al u keuter se doen en late deur die jaar. Die boekie is slegs vir die gebruik van die onderwyser en ouer en NIE VIR DIE KLEUTER NIE. Belangrike briewe, notas, rekeninge en die tema asook weeklikse beplanning van die week, word daarin geplak. ‘n Daaglikse inskrywing word gedoen deur die onderwyseres. U as ouer is welkom om ook kort boodskappies daarin te skryf. Die boekie bly in die kleuter se tas en word elke dag by die skool gebruik. U as ouer is verantwoordelik vir die vervangingskoste indien die boekie sou verloor. SEKURITEIT EN VEILIGHEID Die kleuters word elke oggend by die hek afgelaai en word ontvang deur een van die personeellede. Moet asb nie u kleuter aflaai voordat ‘n personeellid daar is om die kleuter te vergesel nie. Die skool is direk gekoppel aan ADT. HEK Die hek word elektronies beheer. Lui die “Noag se arkie” klokkie in die middag- wees asb geduldig totdat ‘n onderwyser kan oopmaak. Die hek bly ten alle tye toe. UITSTAPPIES • Kwartalikse uitstappies word gereël • Verskeie instansies word besoek en die onkoste verbonde aan die uitstappie word by die betrokke maand se rekening gevoeg. Ouers is welkom om ons te vergesel en te help met vervoer. • Noag se arkie speelpakkies en sonhoedjies word gedra met uitstappies. • Elke kleuter word voorsien met ‘n emmertjie met sy/haar simbool op. Hierdie emmertjie word deur Noag se arkie gevul (@ R5 ekstra) met eetgoed wat dan saam op uitstappies geneem word. VERJAARSDAE Ons maak u kleuter se verjaarsdag baie spesiaal. Elke kleuter ontvang ‘n R120 geskenkbewys (onderwerp aan verandering) en ‘n kroon. Ouers stuur eetgoed saam vir ‘n verjaardagpartytjie. (U kan die hoof raadpleeg vir goeie raad vir eetgoed) Elke kleuter behoort aan Noag se verjaarsdagklub en ontvang ‘n geskenkbewys as geskenk. Die ander kleuters dra elkeen R8 by. Sommige maande verjaar daar sommer 4 of 5 kleutertjies, dan word die bedrag by u rekening gevoeg. FOTOHOEKIE Elke kleuter bring ‘n poskaart-grootte foto van hom- / haarself vir ons fotohoekie. Die foto kan geruil word soos wat u kleuter groei en verander. Aan die einde van die laaste jaar word die foto in Noag se arkie se jaarboek geplak! FOTODAG ‘n Professionele fotograaf besoek ons die laaste kwartaal van die jaar. Ons neem individuele, gesins, klas, en diploma foto’s. Let wel, dit is opsioneel. KLEREDRAG Trek u kleuter gemaklik aan (denim-broekie met rits is moeilik om self aan en uit te trek.) • Trek ou klere vir u kleuter aan. Ons verf en mors soms lekker! • Merk asseblief u kleuter se klere duidelik. Die skool neem geen verantwoordelikheid vir verlore skoene en klere wat nie gemerk is nie. • Moedig u kleuter aan om in die somer kaalvoet te loop. • Stuur asseblief ‘n ekstra stel klere saam in die tas. ETES Die skool voorsien die kleuters van drie etes: • 08.15 : Ontbyt • 10.00 : Broodjie en vrug / water of rooibostee • 11.30 : Gekookte middagete en vrugtesap ALGEMENE HIGIëNE Ons borsel tande na elke middagete. Elke kleuter kry ‘n beurt om ‘n klein buisie tandepasta asook ‘n boksie sneesdoekies skool toe te stuur. TOILETROETINE • Trek u kleuter gemaklik aan sodat hy/sy self kan aan en uittrek • Die nodige hulp en toesig word aan kleuters gegee wat nog sukkel met afvee na ‘n stoelgang. • (Toilette is nie afgeskort met dakhoogte mure en deure nie) MEDIKASIE Geen siek kleuters word toegelaat by die skool nie ~ Dit is ‘n vereiste van die gesondheidsdepartement. Ek as hoof het ‘n verantwoordelikheid teenoor ander ouers om seker te maak dat olike kleuters by die huis sal bly, veral as dit aansteeklike siektes is. Solank u kleuter op medikasie is, hoort u kleuter eintlik tuis. Indien daar vereis word dat u kleuter medisyne binne skoolure moet kry, moet dit asseblief in ‘n medisyne-boek aangeteken word, met u handtekening daarby. Die medisyne moet fisies in die betrokke onderwyseres se hande geplaas word. IMMUNISERINGSKAART ‘n Afskrif van u kind se immuniseringskaart moet op die eerste dag van bywoning ingehandig word, tesame met ‘n afskrif van u kind se geboortesertifikaat. NOODGEVALLE • Ouers word onmiddelik in kennis gestel • Noodgevalle word by Medicross, Randburg hanteer. PROBLEEM-IDENTIFIKASIE Indien enige probleem by u kleuter geïdentifiseer word, bv. Lae spiertonus, spraak- of gehoorprobleme, sal dit onder u aandag gebring word. Die skool kan hierdie kleuters, met u as ouer se toestemming, verwys na spesifieke terapeute. OUERAANDE Twee oueraande word deur die loop van die jaar gehou: • Vroeg in Februarie hou ons ‘n “ken mekaar middag”. Dit is gewoonlik ‘n Bring en braai op ‘n Saterdag. • In die derde kwartaal : Halfjaar-verslae word bespreek en ‘n gasspreker word genooi FUNKSIES U sal vooraf in kennis gestel word oor datums • Mini kermis – almal welkom • Barnyard-aand • Oueraande • Oupa- en Ouma dag • Konsert • Kerspartytjie ( slegs vir kleuters en die nuwe maatjies en hul ouers. VERSLAE • ‘n Volledige verslag word einde Junie uitgestuur. U as ouer, moet dit asseblief teken. • Die verslag word teruggestuur sodra die skool weer heropen KOEKIEDAG (cupcakes) Elke Woensdag is koekiedag. Elke mamma kry ongeveer 2 beurte per jaar om 30-40 koekies skool toe te stuur. Die kleuters koop dit aan @ R2 per koekie, en die fondse word gebruik om bestanddele aan te koop vir bak-en-brou. Meer as 1 koekie mag aangekoop word indien ‘n kosblik saamgestuur word. “FUNKY FRIDAYS” • Bak- en- Brou • Waterspel • Poppekas HAARSNYDAG Dit is ‘n diens wat elke 6 weke op ‘n Maandag gelewer word • Seuns en dogters - R40 • Kuif - R5 Stuur ‘n koevert met u kleuter se naam, die regte bedrag geld en die nodige instruksies saam op hierdie betrokke dae. SPEELGOED / JUWELE / HAARTOEBEHORE • Speelgoed, juwele (insluitend horlosies), eetgoed word onder geen omstandighede by die skool toegelaat nie. • Kinders is geneig om speelgoed van die skool huis toe te neem – stuur dit maar net weer terug. Moet dit asseblief nie as “diefstal” beskou nie! FONDSINSAMELINGS: Ons hou elke kwartaal ‘n fondsinsameling. Die opbrengs word aangewend vir: • Sand en speelgoed vir die sandput • Buite-apparaat en instandhouding daarvan • Fantasie- en konsertklere • Opvoedkundige speletjies en musiekprogramme • Fietsies en “brm-brm’s” • Skryfbehoeftes, gom en verf OPSIONELE / BYKOMENDE AKTIWITEITE • Playball :Maandag 08.30 - 09.30 @R130/mnd (2-3 jaar) @R100/mnd (3-5 jaar) • Rekenaars :Dinsdag 10:00 - 11.00 @R255/kw • Kindermusik :Woensdag 10:00 - 11.30 @R70/mnd LET WEL :Kindermusik is verpligtend vir al die kleuters. • Ballet :Donderdag 10:15 – 10:45 @R100/mnd WATERSPEL ( vanaf 1 Oktober tot 31 Maart) • Kinders bring ‘n ekstra stel klere saam • Dit is elke ouer se verantwoordelikheid om kinders soggens by die huis, met sonblok te smeer VAKANSIES: • Word bepaal deur Gauteng skoolvakansies. • Noag se arkie sal NIE gedurende skoolvakansies OOP WEES NIE. • Die skool sluit 1 week later in Desember, aangesien die volle bedrag skoolgelde steeds in Desember betaalbaar is. Dus sal Noag se arkie altyd die 2de Vrydag in Desember sluit. |